Olga Konstantinowna van Rusland

Olga Konstantinowna Romanowa
Koningin van Griekeland

Periode 27 Oktober 1867 – 18 Maart 1913
Man George I van Griekeland
Kinders Konstantyn I van Griekeland
Prins George
Prinses Alexandra
Prins Nicholas
Prinses Maria
Prinses Olga
Prins Andrew
Prins Christopher
Huis Huis van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg
Huis van Holstein-Gottorp-Romanof
Vader Groothertog Konstantyn Nikolajewitsj van Rusland
Moeder Alexandra van Sakse-Altenburg
Gebore 3 September 1851; Sint Petersburg
Oorlede 18 Junie 1926; Rome
Ander titels Regentes van Griekeland
Tydperk 18 November 1920 – 11 Desember 1920

Olga Konstantinowna Romanowa (Russies: Ольга Константиновна Романова; Grieks: Όλγα της Ελλάδας, Olga tis Elládas), groothertogin van Rusland en deur haar huwelik koningin Olga van Griekeland, is op 3 September 1851 (ou tyd: 22 Augustus 1851) gebore in Pawlofsk, Sint Petersburg, en is op 18 Junie 1926 oorlede in Rome, Italië. Sy was ’n lid van die Romanof-dinastie van Rusland, ’n koningin van Griekeland (tussen 1867 en 1913) en ’n regent van dié land (van 18 November tot 11 Desember 1920). Sy was die ouma van prins Philip, die Hertog van Edinburg, die man van koningin Elizabeth II van die Verenigde Koninkryk.

Olga was die dogter van groothertog Konstantyn Nikolajewitsj van Rusland en groothertogin Alexandra van Sakse-Altenburg, en het haar kinderdae deurgebring in Sint Petersburg, Pole en die Krim. Sy het in 1867, op 16, getrou met koning George I van Griekeland. Sy het aanvanklik moeilik aangepas in haar nuwe land, maar het gou betrokke geraak by maatskaplike werk. Sy het verskeie hospitale en hulpsentrums vir armes gestig. Sy het ook haar man ondersteun wie se bewind gekenmerk is deur verskeie konflikte met die Ottomaanse Ryk. In 1913 is George I in ’n sluipmoordaanval vermoor en Olga het kononginmoeder van Griekeland geword.

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het Olga na Pawlofsk teruggekeer en ’n militêre hospitaal daar opgerig. Toe die Russiese Rewolusie van 1917 uitbreek, is sy egter gearresteer en sy is eers ná onderhandelings met die Deense regering toegelaat om Russiese grondgebied te verlaat.

Sy het haar in Switserland gevestig en eers in 1920 na Griekeland teruggekeer. Die land was toe in die Grieks-Turkse Oorlog van 1919–1922 gewikkel en die politieke onstabiliteit wat veroorsaak is deur die dood van koning Alexander I het tot gevolg gehad dat sy as regent gekies is tot die afgesette Konstantyn I weer die troon kon bestyg. Die nederlaag van die Grieke teen die troepe van Mustafa Kemal van Turkye het die koningshuis egter in ’n nuwe ballingskap gedwing en Olga het die laaste jare van haar lewe tussen die Verenigde Koninkryk, Frankryk en Italië deurgebring.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search